Boere Volkstaat

Friday, January 05, 2007

Van Afrika, was dít die laaste strooi

Steyntjie het eerste na die tamaai, Zimbabwiese houtkameelperd in sy huis se voorportaal gestap, dit met albei hande opgelig, daarmee by die voordeur uitgesukkel en dit op die grasperk laat val.

Toe is hy terug die huis in, reguit na daardie Ovambo-trom in die hoek van die sitkamer wat hy by ’n man op Okahandja in Namibië gekoop het.

Hy het die trom langs die kameelperd gaan neersmyt.

Hy wou niks meer in sy huis hê wat hom aan Afrika herinner nie.

Een ná die ander het hy die goed by die voordeur begin uitdra: Die twee plat stoele wat hulle by ’n Lozi-houtkerwer in Barotseland gekoop het; die twee lenige Nuba-krygsman-beelde uit Soedan wat sy vrou Rita in William Nicolrylaan in Randburg gekoop het, die San-pyl-en-boog en koker van Witdraai in die Kalahari; die Zoeloe-skildvel en assegaai wat Rita een Desember-vakansie op die Marine Parade in Durban gekoop het; die tradisionele houtmasker met die hol oë uit Mosambiek teen die gangmuur.

Ook die tafeltjie onder die spieël in die eetkamer, maar Rita het hom gekeer. Die tafeltjie kom nie van Afrika nie, het sy gesê. Dis van Bali af.

Maar daar was nog genoeg ander Afrika-goed in die huis wat Steyntjie nie weer wou sien nie: Die Nguni-vel op die woonkamer se vloer, die twee Venda-kleipotte op die stoep, die Masai-spies wat hulle verlede jaar gekoop het toe hulle Serengeti toe was om na die wildebeesmigrasie te gaan kyk.

Een ding ná die ander het hy gebring en op ’n hoop op die grasperk gegooi. Hy het selfs die swart driebeenpot in die garage gaan haal.

Daar was ook kleiner goedjies: Die Zoeloe-kalbas, versier met wit en rooi en blou krale, op die rakkie in die eetkamer; twee Wilbur Smith-boeke, ’n bossie ystervarkpenne wat Rita in ’n erdebeker gerang­skik het en allerhande ander curio shop-aankopies: ’n skilpaddop, ’n vliegtuigie gemaak van Cobra-politoerblikke, ’n stringetjie Himba-krale wat saam met sleutels aan ’n hakie langs die yskas in die kombuis gehang het, asook ’n pak Mala-Mala-poskaarte.

Hy het ook die T-hemp uit sy kas gaan haal – die een met die nuwe Suid-Afrika-vlag op wat hy gedra het toe hy twee jaar gelede die Bokke op Twickenham gaan ondersteun het.

Hy het nog iets onthou: In een van die foto-albums op die rak in die woonkamer was ’n kiekie van hom wat op ’n rickshaw boy se karretjie in Durban sit. Sy oorle ma het die foto geneem op een van hul jaarlikse Suidkus-vakansies toe hy ’n kind was. Hy het daardie foto ook op die hoop gesmyt en toe het hy ’n kannetjie petrol uit sy Prado gaan tap.

Met die kannetjie in die hand het hy om die huis gestap en die petrol oor die hoop goed op die grasperk gesprinkel.

Toe het hy ’n vuurhoutjie getrek. Die goed het dadelik vlam gevat.

Daarna het hy vir hom ’n bier uit die yskas gaan haal, op die stoeptrappies gaan sit en stil gekyk hoe daardie goed brand.

Dis wat Steyntjie Steyn Maandagmiddag gedoen het nadat hy en Rita by hul huis in Pretoria gekom en ontdek het hul twee honde is vergiftig en daar is by hul ingebreek en ’n klomp goed gesteel.

Een van die diewe het ook sy besigheid op hul sitkamermat gedoen.
Bron

Boer of Afrikaner?

Die ware identiteit van die Boerevolk

Het die Boervolk werklik Afrikaner geword ?

Hierdie valse Identiteit waarin die Boervolk , polities, vasgevang is na die 1910 Unie en
1961 republiek is die enigste rede hoekom hy nie sy vryheid kan terugkry nie.


INHOUD

1. INLEIDING
2. DEFINISIES
3. BLANKE NEDERSETTERS
4. DIE KAAP/HOLLANDSE SETLAARS (KOLONIALISTE)
5. ENGELSSPREKENDE BLANKES
6. DIE BOERVOLK
7. DIE AFRIKANERS (Kolonialiste)
8. 'N INHEEMSE VOLK (DIE BOERVOLK)


1 INLEIDING

1.1 Die internasionale wêreld ( asook die meeste Suid Afrikaners , maar , veral die "Afrikaners" ) het 'n persepsie dat al die wit mense in Suid Afrika 'n uniforme groep is; dat hulle 'n eenheid vorm en dat hulle tot onlangs, gesamentlik verkies het om ander groepe onder die vaandel van apartheid te domineer. Hierdie is 'n wanpersepsie, 'n feitelike onakkuraatheid, geskep deur diegene wat òf die totale politieke mag in die land ten doel gehad het òf wat daarna gestrewe het om die enigste inheemse Wit bevolkingsgroep in die land, die Boervolk, in 'n groter geheel (groter wordende nasie - van witmense ) op te geneem het om die Boervolk op daardie wyse te vernietig.

Dit is daarom die doel van hierdie voorlegging om aan te toon dat daar Blankes in Suid-Afrika is wat nie deel vorm van die koloniale erfenis nie; wat dus nie deel is van die "Blanke Suid-Afrikaners" wat tot onlangs toe nog as die politieke muishonde van die wêreld beskou was nie. Hierdie groep mense is bekend as die Boervolk.


2 DEFINISIES

2.1 Volgens die Oxford Woordeboek, is die woord "inheems" 'n byvoeglike naamwoord wat beteken "inboorling, behorende op natuurlike wyse tot die landsbodem", (uit die Latynse indigena). 'n Inheemse volk is dus 'n volk wat 'n betrokke gebied bewoon en waar bewys gelewer kan word dat die volk in daardie spesifieke gebied ontstaan het, en nie afkomstig is van enige ander deel van die heelal nie. Hierdie is 'n uiters belangrike en beslissende definisie wat in gedagte gehou moet word wanneer die Blankes van Suid-Afrika se situasie geanaliseer word.??

2.2 Alhoewel die internasionale wêreld reeds vir baie jare al verkeerdelik die Blankes van Suid-Afrika as 'n enkele etniese groep beskou, is daar in der waarheid drie duidelik onderskeibare groepe, naamlik:

1. die Engelssprekende Suid-Afrikaners,
2. die Afrikaners en
3. die Boere

2.3 Die onderskeid tussen hierdie drie etniese groepe, en in die besonder die laaste twee (die "Afrikaners" en die "Boere".) is van uiterste belang wanneer die regte van die Boervolk as inheemse volk bepaal word.

3 BLANKE SETLAARS

3.1 Alhoewel die eerste Blankes in 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop geland het, het hulle nie hierheen gekom as setlaars nie. Hulle was Hollanders wat 'n voorrade depot vir hulle skepe na en vanaf die Ooste, kom vestig het. Die eerste Blanke wat aan wal gestap het, Jan van Riebeeck, het Afrika kort daarna verlaat en nooit weer teruggekeer nie. Hy is dus ook nie, soos vir jare beweer, 'n stam of stigtings vader nie. Ook het van Riebeeck, soos sy base in Holland, nie belanggestel om setlaars hierheen te stuur. Daar het wel klein groepies, af en toe, hier aangekom, en meestel was dit familie, verloofdes, of 'n paar vrouens vir die mans wat alleen hier gebly het.

3.2 Nadat die voorrade depot ingerig was, was dit egter 'n ander groep Europiërs wat in die Kaap aangekom het, wat 'n kern van ware setlaars in die WesKaap gevorm het. Hierdie setlaars het van verskeie Europese lande soos Duitsland , Holland , Frankryk en 'n paar ander kleiner lande gekom. Ook moet op die volgende gelet word. Daar was 'n aanhoudende gesoebat by die meesters in Holland om nog mense hierheen te stuur, maar dit was nooit goedgekeur tot eers omtrent die jare 1695 nie.

3.3 Baie van hierdie mense was afkomstig van Protestantse Kerkgenootskappe in Europa, en hulle, het as geestelike vlugtelinge ( oorspronklik het die meeste van hierdie mense voorheen uit die weste van Duitsland, en die laaglande, na Holland of nader gevlug weens die Katolieke agtervolgings in daardie en vorige eeue. ) hier aangekom. Hierdie golf van protestantisme het gelei tot die vestiging van 'n sterk Protestantse etiek, insoverre, dat Protestantisme tot vandag toe die oorheersende Christelike geloofsoortuiging in Suidelike-Afrika is. Dit was ook weens die dialek wat hierdie mense gepraat het, afkonstig van Plat-Duits, en Hollands, dat die Boervolk later geken was vir hul eie taal, wat as Hoog-Hollands bekend gestaan het. Hierdie Boere taal is ook tot in die 20ste eeu gepraat, ook in die Unie parlement. Hierdie taal van die Boervolk is toe ook in die vroeë 1930's in die Unie Parlement verban.

3.4 Dit is hoe die Kaap onder Hollandse bewind daar uitgesien het. Hierdie bewind het egter al hoe meer outokraties en onuithoudbaar geword. Stadig maar seker het 'n groep van hierdie setlaars, baie van wie reeds tevore moes vlug weens vervolging en dus 'n tradisie van onafhanklikheid ontwikkel het, teen die Nederlandse koloniale bewind begin agiteer. Hierdie agtitasie het uitendelik die "Vryburger-beweging" tot gevolg gehad wat druk op die Nederlandse koloniale bewind uitgeoefen het om al groter onafhanklikheid te verkry.

3.5 Die Vryburgers was die eerste Blankes in Suid-Afrika wat deel was van die oorgangstadium vanaf setlaars na 'n inheemse volk, gebore uit Afrika bodem. Toe die Vryburger-beweging begin het was baie van die mense reeds tot twee geslagte van Europa af verwyder. Dit was lede van hierdie gemeenskap wat uit die Kaap begin emigreer het, gemotiveer deur die begeerte om die juk van Nederlandse koloniale regering af te skud.

3.6 Hierdie agitasie teen koloniale bewind, kan beskou word as die eerste tekens van die enigste inheemse Blanke volk van Afrika. Dit is daarom weer eens uiters belangrik om in gedagte te hou dat die eerste anti-koloniale beweging in Afrika, die Blanke Vryburger-beweging was. Dit was die ontkiemingstadium van die Boervolk. Die pogings om kolonialisme te ontvlug was die oorsprong van die Boervolk.

3.7 Dit is egter ook so dat 'n groot groep, eintlik die oorgrote meerderheid van die Blanke setlaars aan die Kaap, nie die Vryburger-beweging ondersteun het nie. Die meeste van hulle was heeltemal tevrede met die koloniale opset, en nog meer tevrede om onder die Nederlandse vlag te bly. Hierdie mense het die kern gevorm wat vandag bekend staan as die "Arikaner" - hoofsaaklik in die Kaap gebaseer. Hierdie groep word in hierdie voorlegging in detail behandel.

3.8 Die derde golf van Blanke setlaars het na 1820 in groot getalle in Suid-Afrika aangekom. Die Britse empire het teen hierdie tyd die Kaap gedurende die Napoleonse oorloë in Europa begin betrek om die Oosterse Seeroete te beskerm. As gevolg van die Britse besetting van die Kaap, het 'n groot getal Engels- sprekende setlaars in die Kaap aangekom. Hulle het hulle taal, godsdiens en ander kulutrele opvattinge met hulle saamgebring.


4 DIE KAAP/NEDERLANDSE SETLAARS

4.1 Toe die Blanke bevolking aan die Kaap oor kolonialisme skeur - soos wat vroeër aangedui is - het diegene wat die koloniale bewind wou ontvlug, uit die Kaap emigreer. Diegene wat egter geen nasionalistiese ideaal gehad het nie, het verkies om hulle bande met Europa te behou en in die Kaap agtergebly. Die mense wat agtergebly het, was uitsluitlik Nederlanders, en toe die Britte die Kaap begin betrek, was die Nederlanders ook heeltemal tevrede daarmee om getroue Britse burgers te word.

4.2 Diegene wat in die Kaap agtergebly het en onder die Boere wat hul onafhanklikheid nagestreef het, het bekend gestaan as die Kaapse Nederlanders (die "Cape Dutch") 'n simbool van hulle verbintenisse met Europa. Hierdie groep het getrou enige Europese koloniale bewind ondersteun en hewige weerstand gebied teen pogings van die vlugtende Boere om hul bande met die koloniale regerings te verbreek.

Hierdie groep het op alle vlakke van die samelewing met die Boere verskil, eers rakende hulle houding jeens kolonialisme en later selfs hulle taal. Dit is byvoorbeeld nie wyd bekend dat daar 'n duidelike verskil in die praatstyl van die Boer en die Kaap/Nederlands is nie.

4.3 Die hewigheid waarmee die Kaapse Nederlanders die Boere opponeer het was onderstreep toe die Boere uiteindelik uit die Kaaps/Nederlandse Hervormde Kerk ge-ekskomunikeer is toe hulle die Kaap verlaat het. Die koerant van destyds, De Zuid-Afrikaan, was die eerste om die "rebelle" te verdoop "emigranten Boeren", en vandaar die naam Boer.

4.4 Hierdie groep van Kaaps/Nederlandse setlaars het dus altoos die boere-gemeenskap se strewe na onafhanklikheid en anti-kolonialisme opponeer, en, tesame met die Britse setlaars, was hulle die koloniale meesters van Suidelike Afrika, en dit terwyl die Boere altoos probeer het om weg te beweeg van hierdie soort mentaliteit en stand van sake.


5 DIE ENGELSSPREKENDE SUID-AFRIKANERS

5.1 Nadat die Britte die eerste keer in 1795 die Kaap betrek het, het die Britte besluit dat Afrika gevoeg moet word by die steeds uitbreidende Britse Empire. Om hierdie rede het die Britse Regering betrokke geraak by die grootskaalse vestiging van Britse burgers in Suid-Afrika. Die eerste besondere groot vestiging was die koms van die Britse Setlaars in 1820. Hulle het hulle eerste in die Kaap gevestig en later ook in Natal.

5.2 Die Britte se koms na die Kaap is belangrik want dit het weer eens daartoe gelei dat die Boere, wat toe reeds aan die wegtrek was uit die Kaap weens hulle verset teen die Nederlandse bewind aan die Kaap, ook die Britte se koloniale bewind teengestaan het.

5.3 Die Boere se rebellie teen die Britse bewind in die Kaap het 'n hoogtepunt bereik met 'n gewapende rebellie in 1812/1813, bekend as die Slagtersnek Rebellie. Alhoewel hierdie rebellie gefaal het, het dit duidelik die verskil tussen die Boere en beide die Nederlands- en Engelssprekende Blanke setlaars, beklemtoon. Die Boere wou geen deel hê in kolonialisasie nie, terwyl die ander groepe bloot kolonialiste was en niks anders nie.

5.4 Die Britte se vestiging in Suid-Afrika het die tweede grootste etniese groepering van Blankes gevorm. Tot vandag toe nog het hulle hul Britse erfenis en aangetrokkenheid tot hul vaderland behou, tot selfs in soverre dat sommige van hulle vandag nog dubbele burgerskap het, of ten minste toegang het tot dubbele burgerskap - Suid-Afrikaans en Brits.

5.5 Hierdie Engelssprekende element het in sy oorgroter meerderheid van sy geskiedenis in Suid-Afrika, lojaal aan Groot Brittanje gebly, en boonop die Boere teengestaan in hul anti-kolonialistiese strewe. Die taal, kultuur en godsdiens van hierdie Britse setlaars vorm nog steeds 'n belangrike deel van hul Europese vaderland.

6 DIE BOERE

6.1 Toe die eerste anti-kolonialistiese beweging onder die Nederlanders in die Kaap begin het, het die vurige Boere ook begin om die Kaap te verlaat in hul soeke na vryheid en onafhanklikheid. Hierdie mense het voortdurend verder en verder van die Kaap af weggetrek en het uiteindelik met die Nguni-trekkers, die Xhosas, kennis gemaak. Die Xhosas was terselfdertyd besig om suidwaarts te trek. Die kennismaking het plaasgevind in die gebied vandag bekend as die Oos-Kaap.

6.2 Die Boervolk- en die Xhosa-trekgeselskappe, het by die Visrivier ontmoet en 'n wyle vertoef. In hierdie tydperk het die Britse Empire reeds die Kaap-kolonie betrek, en die Boere, wat reeds soveel opgeoffer het om hul Blanke Nederlandse koloniale meester te ontvlug, het hulself hierdie keer onder Blanke Britse oorheersing bevind.

6.3 Dit was vanuit die Oos-Kaap dat die eerste beweging van wat bekend geword het as die Groot Trek, ontstaan het. Die Groot Trek was in wese die emigrering, weg vanaf die Britse Empire - net nog 'n bewys dat die eerste anti-koloniale beweging in Afrika, die Boere-beweging was, 'n inheemse volk wat die oorheersing van 'n Europese koloniale mag probeer ontvlug het.

6.4 Die hoofrede vir die Groot Trek was as gevolg van die Britse koloniale meesters wat probeer het om die Boere van die Kaapse grense probeer kolonialiseer het. Daar was ander kleiner faktore ook, maar opsommenderwys kan gesê word dat dit die Boervolk se hartsbegeerte was om vry en onafhanklik van koloniale oorheersing te wees, wat aanleiding tot die Groot Trek gegee het.

6.5 Dit is van kardinale belang om daarop te let dat telkens wanneer na die Groot Trek verwys word, daar elke keer gesê word dat dit die "Boere" was wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Daar was geen "Afrikaner" Groot Trek, en daar was ook geen "Afrikaner" Groot Trek Leiers nie, maar uitsluitlik Boere-leiers van die Groot Trek. Dit is 'n verdere verwysing dat in hierdie vroeë stadium reeds die Boervolk 'n eie identiteit ontwikkel het, 'n identiteit afsonderlik van die van die Kaapse Nederlanders en die Engelse setlaars van die Kaap.

6.6 Die Boere het, omdat hulle onafhanklikheid nagestreef het, opgepak en noordwaarts begin uitwyk na wat vandag bekend is as die Oranje-Vrystaat, Transvaal en tot in Natal. Alhoewel daar verspreide groepe van die Nguni-sprekende volkere in hierdie gebiede gewoon het, veral in Natal waar die Zoeloes die gesag gevoer het, was die grootste dele van hierdie gebiede onbewoon weens 'n uitdunningsproses vanweë inter-stam oorloë wat volgens oorlewering uit die geledere van die Zoeloe koning Tsjaka begin is.

6.7 Die eerste Boere-beweging in Natal het gepoog om met die Zoeloe-koning, Dingaan te onderhandel. Hierdie pogings om met die Zoeloe oor grondgebied te onderhandel, het gefaal en die Boere-leiers is vermoor.

6.8 Die Zoeloe-leier was egter verslaan in 'n veldslag wat later bekend geword het as die Slag van Bloedrivier in 1838. Die eerste Boere-republiek is kort daarna in Natal gevestig.

6.9 Alhoewel die Boere in werklikheid reeds lank voor die Slag van Bloedrivier hul eie identiteit gevestig het, is die Slag van Bloedrivier deur die Boere as die simboliese geboorte van die Boervolk beskou, veral omdat die Boere hul oorwinning by Bloedrivier aan 'n Goddelike ingryping toegeskryf het. Ingevolge die Verbond wat die Boere voor die Slag van Bloedrivier met God gesluit het, is belowe dat die betrokke dag as 'n heilige dag gedenk sou word, maar groter nog, dat hulle vir die Here 'n "Huis sou stig", beteken in Bybelse terme, 'n Volk sou stig.

6.10 Die Boere het daarna opnuut onderhandelinge met die Zoeloes aangeknoop. Die nuwe Zoeloe-koning, Mpande, het toegestem dat die Boere 'n deel van Natal kon betrek. Uit hierdie gebeurtenis is dit weer eens duidelik dat selfs in hierdie vroeë stadium het die Boervolk reeds erkenning as inheemse volk geniet. Die Boerevolk was nie as 'n koloniale mag beskou nie. As die Boervolk nie as inheemse volk beskou was nie, bloot as 'n verlengstuk van die Europese koloniale magte, dan sou die Zoeloes sekerlik nie met die Boervolk 'n ooreenkoms aangegaan het nie. Die Zoeloes sou verkies het om direk met die Europese magte te onderhandel het.

6.11 Maar, die Britse Empire wou steeds die Boere kolonialiseer en het daarom in 1840 Natal annekseer. Na 'n paar ligte veldslae teen die Britte, het die Boere oplaas weer 'n keer opgepak en Natal verlaat. Hulle het net 'n klein groepie Boere in Noord Natal agtergelaat.

6.12 Die Boere uit Natal het daarna by hul volksgenote in die Oranje-Vrystaat en Transvaal aangesluit. Die Boere in die OVS en Transvaal was toe ook reeds op pad na volkstatus. Alhoewel daar in daardie stadium ook ander volkere in hierdie dele gewoon het, het hulle die Boere as inheemse volk aanvaar, nogtans het 'n paar grootskaalse botsings tussen die boere en sommige van hierdie ander volkere plaasgevind. Sulke botsings het gewoonlik gehandel oor veediefstal of weiding, probleme wat eintlik as normaal beskou word vir inheemse volke om oor te stry.

6.13 In 1852 was die Britse Empire uiteindelik gedwing om self die Boere se onafhanklikheid tydens die Zandrivier Konvensie te erken. Die jaar 1852 is ongetwyfeld die besliste erkenning ingevolge die Internasionale Reg van die Boere as 'n inheemse volk. In daardie vroeë stadium is nie net een nie, maar twee onafhanklike Boere Republieke deur die wêreld erken. Die Boere se erkenning was 'n kontraktuele verbintenis, net soos wat dit in die geval van enige ander inheemse volk sou wees. Die eenvoudige feit dat die Britse koloniale meester hierdie toedrag van sake aanvaar en onderskryf het, toon dat selfs die Europese magte die Boere se onafhanklikheid erken het, en dat hulle ook aanvaar het dat hierdie vrye volk uit Afika ontspring het en nie een of ander koloniale eksperiment nie.

6.14 Intussen het die Boere hul eie kultuur en taal ontwikkel. Feit is dat die taal wat deur die Boervolk gebesig word, een van die nuutste tale in die wêreld is. Dit is 'n taal uitsonderlik van enige Europese taal en baie van die woordgebruik se oorsprong is in Afrika te vinde en nie in enige Europese taal nie. Taalkundig dan is die taal van die Boervolk in Afrika geskep. Dit is net nog 'n bewys dat die Boere en hul kultuur inheems aan Afrika is en nie 'n koloniale invoerproduk nie.

6.15 Dit is ook van uiterste belang om kennis te neem dat toe melding gemaak is van die onafhanklike republieke, daar altyd verwys is na die "Boere" republieke en nooit na die "Afrikaner" republieke nie. Dit dien dus as bewys dat die Boere 'n afsonderlike identiteit as die Kaaps/Nederlanders gehad het. Hierdie afsonderlike identiteit was bevestig ingevolge die Internasionale Reg by die Zandrivier Konvensie in 1852.

6.16 Alhoewel die Boere gemeen het dat hulle uiteindelik vryheid gevind het weg van kolonialisme, was hulle verkeerd. Die Britse Empire het nog twee aanslae geloods om die Boere te kolonialiseer en die tweede keer was die Britte suksesvol.

6.17 Die eerste aanslag om die Boere te kolonialiseer was met die besetting van Transvaal deur 'n klein Britse kontigent in 1877. Hierdie voorval het direkte aanleiding gegee tot die Eerste Anglo Boere-oorlog (let weer daarop dat reg deur die geskiedenis word gepraat van die "Anglo Boere-oorlog" en nie die "Anglo Afrikaner-oorlog" nie) en teen 1881 is die Britse magte tot so 'n mate deur die Boere verslaan dat die Britte weer gedwing was om die Boere republieke te erken. Hierdie stap het amptelike erkenning by die Londense Konvensie van 1884 verkry. Dit was die tweede keer dat die Boervolk ingevolge die Internasionale Reg erkenning as inheemse volk geniet het.

6.18 Dit is 'n prikkelende gedagte vir die mense van die 1990's om te besef dat die eerste vryheidsoorlog teen 'n koloniale meester in Afrika, juis deur die Boere teen die Blanke Britse kolonialiste geveg was - en dit boonop dekades voordat enige Swart vryheidsoorloë geveg was. Daar kan selfs geredeneer word dat alleenlik 'n inheemse volk 'n vryheidsoorlog kan regverdig. Nogtans is dit net weer 'n keer 'n bewys dat die Boere 'n inheemse volk is.

6.19 Die tweede poging deur die Britte om die Boere te kolonialiseer, het tot die Tweede Anglo Boere-oorlog in 1889-1902 aanleiding gegee (Weer moet daarop gelet word dat dit die Anglo Boere-oorlog was en nie die Anglo Afrikaner-oorlog nie). Hierdie oorlog het gelei tot die ontwikkeling deur die Boere van die metode van gorilla-oorlogvoering. Dit is sedertdien deur vryheidsbewegings reg oor die wêreld gebruik. Alhoewel die Boere soos helde teen die oormag geveg het, het die Britte 'n wrede en tot nou toe onbekende wyse van oorlogvoering gebruik - hulle het die Boer-vroue en kinders bymekaargemaak en hulle in konsentrasie- kampe regoor Suid-Afrika ingeperk. In hierdie konsentrasiekampe het sowat 21 000 vroue en kinders gesterf weens geregtelike teregstellings, hongersnood en mishandeling.

Sowat 20% van die Boere-bevolking is op die wyse uitgewis.

6.20 Teen sulke onmenslike optrede kon die Boere nie veg nie en uiteindelik het die Britte daarin geslaag om die Boere in 1902 te kolonialiseer, toe die Verdrag van Vereeniging, wat ook die einde van die Tweede Anglo Boere-oorlog was, onderteken is. Maar, selfs in hulle nederlaag, het die Boere steeds erkenning ingevolge die Internasionale Reg, ervaar.

6.21 Die houding van die Kaaps/Nederlanders en die Engelse setlaars tydens hierdie oorlog, lewer ook verdere bewys dat hierdie twee groepe hulself nie met die Boervolk geassosieer het nie. Alhoewel 'n paar Kaaps/Nederlanders wel die wapen opgeneem het en aan die kant van die Boere geveg het (hulle het gou as die "Kaapse Rebelle" bekend gestaan en was aan ernstige strawwe onderworpe as hulle gevang was) het die oorgroter meerderheid van die Kaaps/Nederlanders en die Engelse setlaars in die Kaap en Natal die Britse kolonialisering van Suid- Afrika gesteun. Dit het in daardie tydvak ook die kolonialisering van vandag se Botswana, Zimbabwe, Zambia en gebiede verder noord, ingesluit.

6.22 Die Verdrag van Vereeniging het dus beteken die onderwerping van die Boere aan die Blanke Europese koloniale meesters - 'n lot wat 'n menigte ander inheemse volkere te beurt geval het, en dit, terwyl die Britte en ander Europese empires steeds Afrika en ander wêrelddele as hul eie persoonlike besitting beskou het. Die Boere se geval was egter uniek daarin dat hulle die enigste Blanke inheemse volk was wat aan koloniale gesag onderwerp is - 'n volk wat deur die Britse Uitsaaikorporasie genoem is "Die Wit Stam van Afrika".


7 DIE "AFRIKANERS"

7.1 Aan die einde van die Tweede Anglo Boere-oorlog was daar dus drie sterk onderskeibare etniese groepe onder die breë spektrum van die Blanke bevolking in Suid-Afrika:

1. die internasionaal erkende inheemse Boerevolk;
2. die Kaaps/Nederlandse Setlaars, trou aan die Britse Empire en
3. die Engelssprekende Wit setlaars, wat ook trou aan die Britse empire was.

7.2 Die Britse Empire het besef dat hulle die Boere vir eens en vir altyd onder beheer moes kry en 'n plan is toe bedink om die Boere Republieke te neutraliseer - 'n plan om 'n soort "eenheid" tussen die Boere en die ander twee Wit segmente in die Britse kolonies in Suid-Afrika te bewerk.

7.3 Die nasionale konvensie van 1908, was die breinkind van die Britse meesters van Suidelike Afrika. Hulle het gesorg vir die skepping van die Unie van Suid-Afrika. Hierdie unie het bestaan uit die voormalige Kaap Kolonie, die Natal Kolonie en die twee voormalige Boere Republieke. Hierdie unie was nie bloot 'n geografiese "gerief" nie, maar 'n doelbewuste plan om te probeer om die Boere, wat onafhanklik wou wees, te vermeng met die Kaap-Nederlanders en die Engelse setlaars.

7.4 Dit is noodwendig dat mens daarop moet let dat die Britse empire hierdie tegniek van hulle ook in ander dele van Afrika toegepas het, soos onder meer Nyassaland (Malawi), Noord-Rhodesië (Zambië) en Suid-Rhodesië (Zimbabwe).

7.5 Die voorste verteenwoordiger van die Britse Empire in Suid-Afrika, Sir Alfred Milner, het dit so gestel: "Die nuwe taktiek (om die Boere te onderwerp) moet wees om die onderskeie gebiede van Brits Suid-Afrika te konsolideer in een nasie. Alhoewel die konsolidering aanvanklik die Boere in politieke beheer van die ganse Suid-Afrika sal plaas, sal dit, ironies genoeg, uiteindelik tot hulle val lei".

7.6 Dit is natuurlik presies wat gebeur het, maar nie voordat 'n nuwe naam vir die nuwe "nasie" waarvan Milner gepraat het, ontwikkel is nie. Hulle sou nie daarmee voortgaan om die nuwe nasie 'n "Boere-staat" te noem nie want die Boere was toe 'n onderwerpte volk. Hulle kon dit ook nie 'n Kaaps/Nederlandse staat noem nie want die Nederlandse kolonialiste was toe reeds Britse kolonialiste. Om ooglopende redes kon dit ook nie 'n Britse staat genoem word nie. Die antwoord was in 'n algemene term en so is die inwoners van die nuutgevonde unie "Afrikaners" genoem. Alhoewel die woord einlik "African" (Swartmens) beteken, is dit deur 'n groep Kaaps/Ne-derlandse propagandiste onder SJ du Toit in 1880 in literatuurwerke verpolitiseer (Dit was ook dieselfde jaar waarin die Boere die wapen teen die Britse kolonialiste opgeneem het).

Dit was toe dat besluit was om die Boere, die Kaaps/Nederlanders en die Engelssprekende Wit bevolkings te vermeng en hulle tot die versamelnaam "Afrikaners" te verdoop in plaas daarvan om na al drie volgens hul etniese grondslae te verwys het.

7.7 Dit is dan hoe die wêreld begin hoor het van "Afrikaners", alhoewel daar net 80 jaar gelede, nog nie so 'n woord in die internasionale woordgebruik was nie.

7.8 Deur die Boere in die Unie van Suid-Afrika in te dwing het die Britte die Boere mede-verantwoordelik gemaak vir die beleid van rasse-segregasie, 'n beleid wat natuurlik deur die Britse koloniale regering gemaak en in wetgewing vervat is.

7.9 Die nuwe "Afrikaners" - in der waarheid eintlik 'n koalisie van die drie Wit groeperinge - het hulle bes probeer om die rasse en geografiese nalatenskap van die Britse koloniale tye te handhaaf. Dit was as gevolg van hierdie ramp, dat die beleid van Apartheid ontwikkel is.

7.10 Dit is van kardinale belang om daarop te let dat die Boere, wat onwillig in die Uniewording van Suid-Afrika ingesleep is, by die eerste beste geleentheid probeer het om hulself te bevry. Dit is wat gelei het tot die 1914 Boere rebellie, wat geëindig het toe sekere generaals uit die Boere-era doodgemaak of in tronke gestop is deur die pro-Britse Unie van die Suid-Afrikaanse regering.

7.11 Dit is dus onregverdig van die internasionale wêreld om die "Boere" te beskou as die mense wat verantwoordelik is vir dit wat in Suid-Afrika plaasgevind het in die tweede deel van die 20e eeu. Die Boere was net soveel slagoffers van die koloniale magte as wat menigte ander inheemse volk in Suid-Afrika was.

7.12 Milner se woorde (soos in 7.5 hier bo) is bewaarheid. Deur die Boere in die valse Unie-wording van Suid-Afrika in te gedwing het, is die Boere gedwing om hulle aan die breë Suid-Afrikaanse Britse kolonie te onderwerp.


8 'N INHEEMSE VOLK

8.1 Die valse Unie-wording van Suid-Afrika was 'n berekende poging om die oorspronklike Bitse beleid van rasse-segregasie in Suid-Afrika te laat geld en verder uit te bou om uiteindelik te gelei het tot die 1994-verkiesing en die bewindsoorname van die African National Congress.

8.2 Die bewindsverandering beteken egter glad nie dat die onderliggende redes vir die val van die Unie van Suid-Afrika (later die Republiek van Suid-Afrika), uit die weg geruim is nie. Daardie redes bestaan steeds, en dit is die realiteit dat daar verskeie etniese groepe, inheemse volkere, in die groter Suid-Afrika is wat almal stry om hul eie geografiese gebiede en leefruimte.

8.3 Die Boervolk is een van hierdie inheemse volkere. Die Boervolk het nie verdwyn nie. Die Britse Empire het probeer om die Boere uit hulle volkskap te manuvreer, maar in werklikheid het hulle nie daarin geslaag nie.

8.4 Die bestaan van die Boervolk het niks in gemeen met rassisme of apartheid nie. Die Boervolk het bestaan lank voordat daar Apartheid was. Die Boervolk is 'n goed gevestigde inheemse volk wat die eerste anti-koloniale vryheidsoorloë in Afrika geveg het. Dit het geen verskil gemaak dat die kolonialiste ook Wit was nie. As die Boere, volgens die wêreldmening, eenvoudig net "wit rassiste" was, dan sou die Boere nooit die wapen teen Wit kolonialiste opgeneem het nie!

8.5 Die feit dat die Boere onderwerp was, neem hoegenaamd nie die feit weg dat die Boere 'n eie volk is nie. Die Boervolk het sy eie unieke geskiedenis, sy eie tradisies, feesdae, politieke dispensasie, politieke filosofie, hulle het hul eie grondgebied gehad (Staat), eie simbole, eie vlae, eie volksliedere, ens. - EN DIT ALLES HET UIT DIE AFRIKA BODEM ONTWIKKEL! Die Boervolk is dus 'n ware inheemse volk, en dit in kontras met die ander twee Wit etniese groepe in Suid-Afrika, wat self niks nuuts of oorspronklik ontwikkel het nie, maar trou gebly het aan die koloniale meesters se embleme en tradisies.

8.6 Die Boere vra nie om 'n Staat of gebied vir die "Blankes" van Suid-Afrika nie. Dit is 'n klug waarmee weggedoen moet word vir eens en vir altyd. Al wat die Boere wil hê is 'n eie onafhanklike gebied, net soos wat hulle gehad het voordat die Wit kolonialiste hulle van vervreem het. Niks meer nie en niks minder nie, word vereis. Ons herhaal: Hierdie het niks met rassisme of ras te doen nie. Hierdie is eenvoudig die begeerte van 'n inheemse volk om hulself te wees en hulself in hul eie geografiese gebied te regeer.

Bron

Sunday, November 26, 2006

'n Naweek op Orania

Carla van der Spuy

Jy kan vir ‘n naweek Drakensberge toe gaan of jy kan ‘n alternatiewe ervaring kies – ‘n besoek aan Orania.

Ek kry opdrag van die vakbond Solidariteit om die Volkstaat te besoek en ‘n artikel vir hul arbeidstydskrif oor gemeenskapsekonomieë te skryf. Net daaroor. Hou streng by die onderwerp. Vergeet van die politiek, is die boodskap. Vind uit wat die mense op ekonomiese gebied en ten opsigte van werkskepping uitgerig het, benadruk Dirk Hermann.

Ek ry saam met Jaco en Magdaleen, twee jongmense van hul mediakantoor. Daar is ook plek in die kar vir my 16-jarige seun Louwtjie. Dis skoolvakansie, hy is verveeld en dis die ideale geleentheid om die tyd om te kry. Nie een van sy maats was al op Orania nie maar almal sterf van nuuskierigheid. Hy sal volledig verslag moet doen as hy terug is.

Dirk bel ‘n paar keer.

‘Is julle al in die buiteland?’ wil hy weet.

Ons bars uit van die lag.

‘Onthou tog net om ‘n paar bottels van Christiaan van Zyl (die argitek) se lekker braaisous saam te bring’, vra hy mooi.

Die pad is lank. Minstens sewe uur se ry van Pretoria af. Dis stikdonker as ons daar aankom.

‘Welkom in Orania – Afrikanertuiste’, lui ‘n kennisgewingbord by die ingang van die dorp.

Dit lyk op die oog af soos ‘n doodgewone Karoodorp maar kinders ry tot laataand op hul fietse op die grondpaaie rond.

Die sterre in die Karoohemel skitter veel helderder as in Gauteng. Al die verkeerstekens is in Afrikaans. Dis kindervriendelik. Een toon duidelik dat kleuters op driewiele ook padgebruikers is. Die strate is silwerskoon; onbesoedel.

Daar is oral slagspreuke soos die een wat lui; ‘Die een wat die hardste grawe kry die grootste wortel'. Hier is duidelik ‘n werkkultuur. Loodswaaiers word nie geduld nie. Die dorpsvlag toon ‘n seun met opgerolde moue. As jy in die volkstaat wil oorleef sal jy skouer aan die wiel moet sit.

Ons oornag in Die Herberg Oranje, Orania se spog gastehuis wat aan Renus en Alma Steyn behoort. Alma swaai die deur wawyd en verwelkomend oop. Sy is ‘n byderwetse, goedversorgde vrou.‘Ons het julle verwag’, groet sy gul.

Die huis is ruim en gesellig. Bebaarde Boeregeneraals frons vanuit portretrame van die mure aan. Daar is ook ‘n uitbeelding van Die Slag van Bloedrivier in die breë gang waar die gras eens tot heuphoogte gegroei het toe Orania nog ‘n spookdorp was. Handgemaakte leerskoene, stewels en gordels word op tafels uitgestal. Alma verkoop dit. Sy is ook een keer per week ‘n suster by ‘n kliniek.

Sy sorg vir die aandete in die gastehuis en Renus vir ontbyt.

Hulle praat die keurigste Afrikaans.

Benewens die gastehuis met sy twee slaapkamers, doen Renus ook aanbouings en bedryf ‘n klein kwekery in sy agterplaas. Hul een dogter besit ‘n haarsalon in dieselfde huis en die ander een ‘n speelgroepie. Altesame vyf ondernemings word dus vanuit hul huis bedryf. Orania met sy 600 tot 800 inwoners (almal bly nie permanent daar nie) is so klein dat inwoners noodwendig ‘n paar beroepe moet volg om te kan oorleef.

Ons gaan kuier eers by Eleanor Lombard en haar man Pieter in hul piepklein strooibaalhuis wat deur Christiaan ontwerp is. Christiaan is ook ‘n omroeper by Radio 100, Orania se eie Afrikaanse radiostasie, konfytmaker en by geleentheid selfs kelner by sy vrou Hermien se teekamer by Afsaal. Op Orania moet ‘n mens veelsydig en skeppend wees om te oorleef.

‘n Vuur knetter gesellig in die sitkamer cum slaapkamer terwyl Pieter kort-kort in die kospotte loer. Die ‘kinders’ (ses studente van Stellenbosch wat Orania kom besoek het ) is seker rasend honger, bespiegel hulle.

Die egpaar is opgewonde oor die jongmense se belangstelling in die Volkstaat. Een van die meisies is nogal Engelssprekend. Hulle is ook heel beïndruk met my tiener wat die moeite gedoen het om saam te kom.

Eleanor en Pieter is passievol oor Orania, en Eleanor, gewese leier van die Vryheidsfront Plus in die Wes-Kaap, verdien geen salaris as Orania se skakelbeampte nie. Om die studente om 2h00 in die oggend op die stasie te gaan haal was vir haar geen opoffering nie.

Die studente se slaapsakke lê die hele eenmanvertrekhuis vol. Christiaan voer vanaand ‘n onderhoud met hulle. In Afrikaans natuurlik. Dit word ook met Afrikaanse musiek afgewissel. Die Engelse meisie probeer hard om Afrikaans te praat maar skakel later na Engels oor. Sy word heel gemoedelik op haar gemak gestel. Sy het darem probeer. Christiaan vra wat hulle swot en hoe hulle Orania en sy mense ervaar. Die inwoners is vriendelik en laat hulle tuis voel, vertel hul soos in een koor. Dit was ‘n ervaring en ja, heel anders as wat hulle hul voorgestel het.

Later daag die studente op en maak hul tuis in Eleanor-hulle se huis. Hulle is toe rasend honger. Dis asof hulle by ou bekendes kuier.

Ons gesels oor die eienskappe waaroor ‘n Volkstater moet beskik. ‘Jy moet beslis iets van ‘n pioniersgees en waagmoed hê’, vertel Eleanor. ‘Dis geen Utopia nie. Orania toets jou tot in jou niere. Party mense daag met ‘n swart sak hier op en dink hulle is ‘n geskenk van Bo maar dan word hulle ontnugter.Mense het hulle al hier vasgeloop.’

Ons klets oor alles behalwe die politiek. Dis ‘n onderwerp wat die hele naweek vermy word. Toegegee, natuurlik wantrou hulle joernaliste want hoeveel kere is hulle nie al belaglik gemaak nie?

Male sonder tal is al geskryf oor Dr Hendrik Verwoerd se standbeeld ‘ wat ‘n wakende oog’ oor die Volkstaat hou. Dit terwyl talle Oraniërs voel die einste omstrede standbeeld hoort in die Verwoerd museum. Daar is inderdaad planne dat dit daarheen verskuif gaan word.

Hulle is keelvol vir die regse politieke etiket wat om hulle nekke gehang word. Hulle is hartlik moeg daarvoor om as eng en verkramp uitgebeeld te word. Hulle is om dié rede smoorkwaad vir RSG se Sê Wie-aanbieder Niekie van den Berg wat onlangs ‘n baie ‘negatiewe’ inbelprogram oor Orania uitgesaai het. Van die 15 oproepe wat hy ontvang het was 11 glo positief maar hy het verkies om slegs dié wat hulle afkraak uit te saai, vertel Eleanor-hulle verontwaardig. Dan eindig hy die program met die woorde dat ‘n mens verkramp moet wees om in Orania te woon. En dit terwyl hy nog nooit ‘n voet in Orania gesit het nie.

Maar nouja, filosofeer hulle, dit is seker ‘n geval van ‘wie se brood men eet, wie se woord men spreek….’

Mense moet Orania met ‘n oop gemoed besoek – en met ‘n oop kop sê die inwoners.

‘n Afrikaanse glanstydskrif het onlangs ‘n meer positiewe beeld van Orania gegee. Maar hulle is darem nie heeltemal so konserwatief as wat hulle uitgebeeld is nie, sê Eleanor. En ‘n objektiewe televisieprogram wat etlike jare gelede oor hulle gemaak is, word nou nog aan besoekers vertoon.

Vir hulle gaan Orania oor selfstandigheid en onafhanklikheid en die behoud van die Afrikaanse kultuur. Hulle wil net hul eie ding doen. Wat op aarde is tog daarmee verkeerd? Is hul houding.

Hulle vertel trots hoe die Noord-Kaapse premier onlangs besonder beïndruk met sy besoek aan Orania was. Orania is nie vir die regering ‘n las of ‘n bedreiging nie. Die werkloosheidsyfer, nes die misdaadsyfer is ‘n ronde nul. Daar is dan nie eers ‘n polisiestasie op die dorp nie.

Van Eleanor af ry ons na Frans de Klerk en sy vrou Roelien wat ‘n lid van die juweliersgilde is, se onpretensieuse huis.

Roelien lyk soos ‘n kunstenaar. Sy dra ‘n byderwetse onderbaadjie en daar is moderne kunswerke teen haar huis se mure. Frans wat by die Orania Beweging werk is een van die intellektuele op die dorp maar die gesin woon in Klein Geluk wat eintlik ‘n tuiste vir die werkersklas is. Van Karel Boshoff se familielede woon glo ook daar.

Frans was op universiteit nogal ‘liberaal’ maar die ideologie van ‘n volkstaat het vir hom al aantrekliker begin lyk.

Oraniërs vertel dat hulle nie snobisties of materialisties nie. Dis onmoontlik om daar ryk te word. Jy moet bereid wees om eenvoudiger as voorheen te leef, maar die beloning is ‘n lewensgehalte wat jy nêrens anders kan koop nie – tussen jou eie mense. ‘Waar anders kan jy 3 weke lank vergeet waar jy jou voordeursleutel gelos het? Of al jou waardevolle besittings in jou kar los?’

Die volgende dag gaan ons na die gemeenskapsbank toe om Oras te kry wat ook deur Christiaan ontwerp is. Die seun met die opgerolde moue en Racheltjie de Beer word daarop uitgebeeld. ‘n Ora is presies net soveel as die Rand werd maar die gebruik van hul eie geldeenheid word aangemoedig. So kry ‘n mens op sekere produkte afslag as jy met Oras koop.

Afsaal se stoep is ‘n gesellige kuierplek. Almal groet mekaar op die naam. Mense wie se ouderdomme nie veel verskil nie spreek mekaar as ‘Oom’ aan. Hier kan jy nog ‘n stewige ontbyt vir R15 kry.

Daar is ‘n gevoel van déjà vu op Orania. Dit herinner aan die ou, veilige en konserwatiewe Suid-Afrika. Maar daar is terselfdertyd iets van Europa. Blankes doen werk wat tradisioneel deur Swartes verrig is – en ‘n mens moet erken dit val aanvanklik vreemd op.

Tanya, die meisie wat die beddens by die Huis Oranje opmaak en die gastehuis skoonhou word met respek ‘n au pair en nie ‘n huishulp genoem nie. Sy is skamerig, beleefd en fluks. Jy kan haar deur ‘n ring trek. Haar werkgewers beskou haar as ‘n aanwins. ‘In Europa word die meisies au pairs genoem. Hoekom sal ons dit nie doen nie?’ vra Renus.

Tanya is soos een van hul eie dogters. Sy en haar gesin het een nag op die stasie aangekom en ‘n heenkome op die dorp gekry. Nou is sy hul regterhand. Sy beantwoord die telefoon en help om hul ander ondernemings te bestuur.

Renus vertel ook van die omgeemense van Orania. Drie of vier meer gegoede gesinne sal ‘n arm gesin onder die vlerk neem en help om hulle op die been te kry
.
Maar ongelukkig, vertel die Oraniërs, het hulle ook verkeerde elemente gelok. Daar is mense wat dink die dorp is ‘n toevlugsoord vir rassiste en droogmakers. Van hulle word blitsvinnig ontslae geraak en agterna kla hulle by die koerante. Dan word lustig geskryf oor Orania se ‘wit huishulpe’ en die ‘onmin’ wat daar heers.

Die jongklomp kan nie wag om hul Oras te blaas nie. Hulle koop helderkleurige en moderne Orania T-hemde wat herinner aan die soort wat by die KKNK beskikbaar is. Heeltemal koel genoeg.

Die middag wil ons die Verwoerd-museum besoek wat die huis is waar Betsie Verwoerd tot haar dood gewoon het. Dis gesluit, maar dit blyk geen probleem te wees. Die tannie wat na die museum omsien kuier in Klein Geluk maar ons kan die sleutel by haar gaan haal en later vir haar terugbring. Ons is verstom. Hier vertrou mense mekaar nog. Sy was Betsie Verwoerd se persoonlike verpleegster tot haar dood toe. Nou maak sy Karel Boshoff se huis skoon en doen ‘n vrygesel se wasgoed. Dis ‘n nederige leefwyse maar sy vertel sy was nog nooit in haar lewe so gelukkig nie.

Ons besoek die museum wat ‘n les in geskiedenis is en kyk na die sitkamer waar Nelson Mandela mev Verwoerd besoek het. Die huis is gerieflik maar onopgesmuk.

By die meule vertel ‘n ongetroude man dat meisies maar skaars op Orania is.‘Daar is ‘n waglys’. Tog ontmoet ons begeesterde jongmense wat nêrens anders wil woon nie.

In die aand kom haal ‘n jongman ‘n meisie vir ‘n wandeling. Haar vriendin stap saam. Dis nou ‘n hot date terg ons hom.

Ons kuier tot laatnag by die einste jongman wat om middernag die wynbottels wegpak en streng verklaar; ‘Dis nou Sondag.’

Ons gaan slaap en die stilte is oorverdowend. Ons is nie net op ‘n ander plek nie. Dit voel ook of ons in ‘n ander era is.

Die volgende oggend sien ons oral mense na een van die drie kerke toe stap om die erediens by te woon. Dit lyk of almal op Orania kerkgangers is. Een van die vereistes vir inwoners is dat hulle Christene moet wees.

Alles is gesluit want dis Sondag. Net soos in die ou Suid-Afrika. Dis irriterend maar terselfdertyd nostalgies. Die vulstasie sal darem van 11h00 af vir twee uur lank oop wees sodat ons brandstof kan ingooi voor ons huis toe gaan, maar ‘n mens kry die indruk dit is eintlik ‘n toegewing dat dit hoegenaamd oop is. Hier word die Sabbat nog geëer.

Ons ry weer ‘n paar draaie deur die dorp en hou by die veelbesproke Koeksistermonument stil – iets waarmee enige vrou wat nie ‘n besemstok is nie kan identifiseer. Ons monde water. Ons wil dadelik koeksisters eet. Maar helaas, dis Sondag. Alles is toe.

Die Oraniërs sê dit maak sin dat ‘n monument vir dié stroperige lekkerny opgerig is want hoeveel ouetehuise en weeshuise is nie deur die jare danksy koeksisters gebou nie? En Jaco voeg by dat die einste monument toon dat die Volkstaters darem ‘n humorsin het.

‘Haai,’ merk my seun op, ‘ die plek is toe nie met konsentrasiedraad omheim nie. Daar was ook nie ‘n boer met ‘n ou Sanna wat vreemdelinge verwilder nie.’

By die vulstasie gooi ‘n Afrikaner vir ons brandstof in. Byna vergeet ons om vir hom ‘n fooitjie te gee. Ons voel verskriklik skuldig. Ons ry huis toe – terug na die Nuwe Suid-Afrika. Terug na Gangsters Paradise. In Gauteng is dit tweede natuur om ‘n petroljoggie iets in die hand te stop.

Dalk het ons nog nie die kopskuif gemaak nie.

Bron