Boere Volkstaat

Friday, January 05, 2007

Van Afrika, was dít die laaste strooi

Steyntjie het eerste na die tamaai, Zimbabwiese houtkameelperd in sy huis se voorportaal gestap, dit met albei hande opgelig, daarmee by die voordeur uitgesukkel en dit op die grasperk laat val.

Toe is hy terug die huis in, reguit na daardie Ovambo-trom in die hoek van die sitkamer wat hy by ’n man op Okahandja in Namibië gekoop het.

Hy het die trom langs die kameelperd gaan neersmyt.

Hy wou niks meer in sy huis hê wat hom aan Afrika herinner nie.

Een ná die ander het hy die goed by die voordeur begin uitdra: Die twee plat stoele wat hulle by ’n Lozi-houtkerwer in Barotseland gekoop het; die twee lenige Nuba-krygsman-beelde uit Soedan wat sy vrou Rita in William Nicolrylaan in Randburg gekoop het, die San-pyl-en-boog en koker van Witdraai in die Kalahari; die Zoeloe-skildvel en assegaai wat Rita een Desember-vakansie op die Marine Parade in Durban gekoop het; die tradisionele houtmasker met die hol oë uit Mosambiek teen die gangmuur.

Ook die tafeltjie onder die spieël in die eetkamer, maar Rita het hom gekeer. Die tafeltjie kom nie van Afrika nie, het sy gesê. Dis van Bali af.

Maar daar was nog genoeg ander Afrika-goed in die huis wat Steyntjie nie weer wou sien nie: Die Nguni-vel op die woonkamer se vloer, die twee Venda-kleipotte op die stoep, die Masai-spies wat hulle verlede jaar gekoop het toe hulle Serengeti toe was om na die wildebeesmigrasie te gaan kyk.

Een ding ná die ander het hy gebring en op ’n hoop op die grasperk gegooi. Hy het selfs die swart driebeenpot in die garage gaan haal.

Daar was ook kleiner goedjies: Die Zoeloe-kalbas, versier met wit en rooi en blou krale, op die rakkie in die eetkamer; twee Wilbur Smith-boeke, ’n bossie ystervarkpenne wat Rita in ’n erdebeker gerang­skik het en allerhande ander curio shop-aankopies: ’n skilpaddop, ’n vliegtuigie gemaak van Cobra-politoerblikke, ’n stringetjie Himba-krale wat saam met sleutels aan ’n hakie langs die yskas in die kombuis gehang het, asook ’n pak Mala-Mala-poskaarte.

Hy het ook die T-hemp uit sy kas gaan haal – die een met die nuwe Suid-Afrika-vlag op wat hy gedra het toe hy twee jaar gelede die Bokke op Twickenham gaan ondersteun het.

Hy het nog iets onthou: In een van die foto-albums op die rak in die woonkamer was ’n kiekie van hom wat op ’n rickshaw boy se karretjie in Durban sit. Sy oorle ma het die foto geneem op een van hul jaarlikse Suidkus-vakansies toe hy ’n kind was. Hy het daardie foto ook op die hoop gesmyt en toe het hy ’n kannetjie petrol uit sy Prado gaan tap.

Met die kannetjie in die hand het hy om die huis gestap en die petrol oor die hoop goed op die grasperk gesprinkel.

Toe het hy ’n vuurhoutjie getrek. Die goed het dadelik vlam gevat.

Daarna het hy vir hom ’n bier uit die yskas gaan haal, op die stoeptrappies gaan sit en stil gekyk hoe daardie goed brand.

Dis wat Steyntjie Steyn Maandagmiddag gedoen het nadat hy en Rita by hul huis in Pretoria gekom en ontdek het hul twee honde is vergiftig en daar is by hul ingebreek en ’n klomp goed gesteel.

Een van die diewe het ook sy besigheid op hul sitkamermat gedoen.
Bron

0 Comments:

Post a Comment

<< Home