Boere Volkstaat

Sunday, November 26, 2006

'n Naweek op Orania

Carla van der Spuy

Jy kan vir ‘n naweek Drakensberge toe gaan of jy kan ‘n alternatiewe ervaring kies – ‘n besoek aan Orania.

Ek kry opdrag van die vakbond Solidariteit om die Volkstaat te besoek en ‘n artikel vir hul arbeidstydskrif oor gemeenskapsekonomieë te skryf. Net daaroor. Hou streng by die onderwerp. Vergeet van die politiek, is die boodskap. Vind uit wat die mense op ekonomiese gebied en ten opsigte van werkskepping uitgerig het, benadruk Dirk Hermann.

Ek ry saam met Jaco en Magdaleen, twee jongmense van hul mediakantoor. Daar is ook plek in die kar vir my 16-jarige seun Louwtjie. Dis skoolvakansie, hy is verveeld en dis die ideale geleentheid om die tyd om te kry. Nie een van sy maats was al op Orania nie maar almal sterf van nuuskierigheid. Hy sal volledig verslag moet doen as hy terug is.

Dirk bel ‘n paar keer.

‘Is julle al in die buiteland?’ wil hy weet.

Ons bars uit van die lag.

‘Onthou tog net om ‘n paar bottels van Christiaan van Zyl (die argitek) se lekker braaisous saam te bring’, vra hy mooi.

Die pad is lank. Minstens sewe uur se ry van Pretoria af. Dis stikdonker as ons daar aankom.

‘Welkom in Orania – Afrikanertuiste’, lui ‘n kennisgewingbord by die ingang van die dorp.

Dit lyk op die oog af soos ‘n doodgewone Karoodorp maar kinders ry tot laataand op hul fietse op die grondpaaie rond.

Die sterre in die Karoohemel skitter veel helderder as in Gauteng. Al die verkeerstekens is in Afrikaans. Dis kindervriendelik. Een toon duidelik dat kleuters op driewiele ook padgebruikers is. Die strate is silwerskoon; onbesoedel.

Daar is oral slagspreuke soos die een wat lui; ‘Die een wat die hardste grawe kry die grootste wortel'. Hier is duidelik ‘n werkkultuur. Loodswaaiers word nie geduld nie. Die dorpsvlag toon ‘n seun met opgerolde moue. As jy in die volkstaat wil oorleef sal jy skouer aan die wiel moet sit.

Ons oornag in Die Herberg Oranje, Orania se spog gastehuis wat aan Renus en Alma Steyn behoort. Alma swaai die deur wawyd en verwelkomend oop. Sy is ‘n byderwetse, goedversorgde vrou.‘Ons het julle verwag’, groet sy gul.

Die huis is ruim en gesellig. Bebaarde Boeregeneraals frons vanuit portretrame van die mure aan. Daar is ook ‘n uitbeelding van Die Slag van Bloedrivier in die breë gang waar die gras eens tot heuphoogte gegroei het toe Orania nog ‘n spookdorp was. Handgemaakte leerskoene, stewels en gordels word op tafels uitgestal. Alma verkoop dit. Sy is ook een keer per week ‘n suster by ‘n kliniek.

Sy sorg vir die aandete in die gastehuis en Renus vir ontbyt.

Hulle praat die keurigste Afrikaans.

Benewens die gastehuis met sy twee slaapkamers, doen Renus ook aanbouings en bedryf ‘n klein kwekery in sy agterplaas. Hul een dogter besit ‘n haarsalon in dieselfde huis en die ander een ‘n speelgroepie. Altesame vyf ondernemings word dus vanuit hul huis bedryf. Orania met sy 600 tot 800 inwoners (almal bly nie permanent daar nie) is so klein dat inwoners noodwendig ‘n paar beroepe moet volg om te kan oorleef.

Ons gaan kuier eers by Eleanor Lombard en haar man Pieter in hul piepklein strooibaalhuis wat deur Christiaan ontwerp is. Christiaan is ook ‘n omroeper by Radio 100, Orania se eie Afrikaanse radiostasie, konfytmaker en by geleentheid selfs kelner by sy vrou Hermien se teekamer by Afsaal. Op Orania moet ‘n mens veelsydig en skeppend wees om te oorleef.

‘n Vuur knetter gesellig in die sitkamer cum slaapkamer terwyl Pieter kort-kort in die kospotte loer. Die ‘kinders’ (ses studente van Stellenbosch wat Orania kom besoek het ) is seker rasend honger, bespiegel hulle.

Die egpaar is opgewonde oor die jongmense se belangstelling in die Volkstaat. Een van die meisies is nogal Engelssprekend. Hulle is ook heel beïndruk met my tiener wat die moeite gedoen het om saam te kom.

Eleanor en Pieter is passievol oor Orania, en Eleanor, gewese leier van die Vryheidsfront Plus in die Wes-Kaap, verdien geen salaris as Orania se skakelbeampte nie. Om die studente om 2h00 in die oggend op die stasie te gaan haal was vir haar geen opoffering nie.

Die studente se slaapsakke lê die hele eenmanvertrekhuis vol. Christiaan voer vanaand ‘n onderhoud met hulle. In Afrikaans natuurlik. Dit word ook met Afrikaanse musiek afgewissel. Die Engelse meisie probeer hard om Afrikaans te praat maar skakel later na Engels oor. Sy word heel gemoedelik op haar gemak gestel. Sy het darem probeer. Christiaan vra wat hulle swot en hoe hulle Orania en sy mense ervaar. Die inwoners is vriendelik en laat hulle tuis voel, vertel hul soos in een koor. Dit was ‘n ervaring en ja, heel anders as wat hulle hul voorgestel het.

Later daag die studente op en maak hul tuis in Eleanor-hulle se huis. Hulle is toe rasend honger. Dis asof hulle by ou bekendes kuier.

Ons gesels oor die eienskappe waaroor ‘n Volkstater moet beskik. ‘Jy moet beslis iets van ‘n pioniersgees en waagmoed hê’, vertel Eleanor. ‘Dis geen Utopia nie. Orania toets jou tot in jou niere. Party mense daag met ‘n swart sak hier op en dink hulle is ‘n geskenk van Bo maar dan word hulle ontnugter.Mense het hulle al hier vasgeloop.’

Ons klets oor alles behalwe die politiek. Dis ‘n onderwerp wat die hele naweek vermy word. Toegegee, natuurlik wantrou hulle joernaliste want hoeveel kere is hulle nie al belaglik gemaak nie?

Male sonder tal is al geskryf oor Dr Hendrik Verwoerd se standbeeld ‘ wat ‘n wakende oog’ oor die Volkstaat hou. Dit terwyl talle Oraniërs voel die einste omstrede standbeeld hoort in die Verwoerd museum. Daar is inderdaad planne dat dit daarheen verskuif gaan word.

Hulle is keelvol vir die regse politieke etiket wat om hulle nekke gehang word. Hulle is hartlik moeg daarvoor om as eng en verkramp uitgebeeld te word. Hulle is om dié rede smoorkwaad vir RSG se Sê Wie-aanbieder Niekie van den Berg wat onlangs ‘n baie ‘negatiewe’ inbelprogram oor Orania uitgesaai het. Van die 15 oproepe wat hy ontvang het was 11 glo positief maar hy het verkies om slegs dié wat hulle afkraak uit te saai, vertel Eleanor-hulle verontwaardig. Dan eindig hy die program met die woorde dat ‘n mens verkramp moet wees om in Orania te woon. En dit terwyl hy nog nooit ‘n voet in Orania gesit het nie.

Maar nouja, filosofeer hulle, dit is seker ‘n geval van ‘wie se brood men eet, wie se woord men spreek….’

Mense moet Orania met ‘n oop gemoed besoek – en met ‘n oop kop sê die inwoners.

‘n Afrikaanse glanstydskrif het onlangs ‘n meer positiewe beeld van Orania gegee. Maar hulle is darem nie heeltemal so konserwatief as wat hulle uitgebeeld is nie, sê Eleanor. En ‘n objektiewe televisieprogram wat etlike jare gelede oor hulle gemaak is, word nou nog aan besoekers vertoon.

Vir hulle gaan Orania oor selfstandigheid en onafhanklikheid en die behoud van die Afrikaanse kultuur. Hulle wil net hul eie ding doen. Wat op aarde is tog daarmee verkeerd? Is hul houding.

Hulle vertel trots hoe die Noord-Kaapse premier onlangs besonder beïndruk met sy besoek aan Orania was. Orania is nie vir die regering ‘n las of ‘n bedreiging nie. Die werkloosheidsyfer, nes die misdaadsyfer is ‘n ronde nul. Daar is dan nie eers ‘n polisiestasie op die dorp nie.

Van Eleanor af ry ons na Frans de Klerk en sy vrou Roelien wat ‘n lid van die juweliersgilde is, se onpretensieuse huis.

Roelien lyk soos ‘n kunstenaar. Sy dra ‘n byderwetse onderbaadjie en daar is moderne kunswerke teen haar huis se mure. Frans wat by die Orania Beweging werk is een van die intellektuele op die dorp maar die gesin woon in Klein Geluk wat eintlik ‘n tuiste vir die werkersklas is. Van Karel Boshoff se familielede woon glo ook daar.

Frans was op universiteit nogal ‘liberaal’ maar die ideologie van ‘n volkstaat het vir hom al aantrekliker begin lyk.

Oraniërs vertel dat hulle nie snobisties of materialisties nie. Dis onmoontlik om daar ryk te word. Jy moet bereid wees om eenvoudiger as voorheen te leef, maar die beloning is ‘n lewensgehalte wat jy nêrens anders kan koop nie – tussen jou eie mense. ‘Waar anders kan jy 3 weke lank vergeet waar jy jou voordeursleutel gelos het? Of al jou waardevolle besittings in jou kar los?’

Die volgende dag gaan ons na die gemeenskapsbank toe om Oras te kry wat ook deur Christiaan ontwerp is. Die seun met die opgerolde moue en Racheltjie de Beer word daarop uitgebeeld. ‘n Ora is presies net soveel as die Rand werd maar die gebruik van hul eie geldeenheid word aangemoedig. So kry ‘n mens op sekere produkte afslag as jy met Oras koop.

Afsaal se stoep is ‘n gesellige kuierplek. Almal groet mekaar op die naam. Mense wie se ouderdomme nie veel verskil nie spreek mekaar as ‘Oom’ aan. Hier kan jy nog ‘n stewige ontbyt vir R15 kry.

Daar is ‘n gevoel van déjà vu op Orania. Dit herinner aan die ou, veilige en konserwatiewe Suid-Afrika. Maar daar is terselfdertyd iets van Europa. Blankes doen werk wat tradisioneel deur Swartes verrig is – en ‘n mens moet erken dit val aanvanklik vreemd op.

Tanya, die meisie wat die beddens by die Huis Oranje opmaak en die gastehuis skoonhou word met respek ‘n au pair en nie ‘n huishulp genoem nie. Sy is skamerig, beleefd en fluks. Jy kan haar deur ‘n ring trek. Haar werkgewers beskou haar as ‘n aanwins. ‘In Europa word die meisies au pairs genoem. Hoekom sal ons dit nie doen nie?’ vra Renus.

Tanya is soos een van hul eie dogters. Sy en haar gesin het een nag op die stasie aangekom en ‘n heenkome op die dorp gekry. Nou is sy hul regterhand. Sy beantwoord die telefoon en help om hul ander ondernemings te bestuur.

Renus vertel ook van die omgeemense van Orania. Drie of vier meer gegoede gesinne sal ‘n arm gesin onder die vlerk neem en help om hulle op die been te kry
.
Maar ongelukkig, vertel die Oraniërs, het hulle ook verkeerde elemente gelok. Daar is mense wat dink die dorp is ‘n toevlugsoord vir rassiste en droogmakers. Van hulle word blitsvinnig ontslae geraak en agterna kla hulle by die koerante. Dan word lustig geskryf oor Orania se ‘wit huishulpe’ en die ‘onmin’ wat daar heers.

Die jongklomp kan nie wag om hul Oras te blaas nie. Hulle koop helderkleurige en moderne Orania T-hemde wat herinner aan die soort wat by die KKNK beskikbaar is. Heeltemal koel genoeg.

Die middag wil ons die Verwoerd-museum besoek wat die huis is waar Betsie Verwoerd tot haar dood gewoon het. Dis gesluit, maar dit blyk geen probleem te wees. Die tannie wat na die museum omsien kuier in Klein Geluk maar ons kan die sleutel by haar gaan haal en later vir haar terugbring. Ons is verstom. Hier vertrou mense mekaar nog. Sy was Betsie Verwoerd se persoonlike verpleegster tot haar dood toe. Nou maak sy Karel Boshoff se huis skoon en doen ‘n vrygesel se wasgoed. Dis ‘n nederige leefwyse maar sy vertel sy was nog nooit in haar lewe so gelukkig nie.

Ons besoek die museum wat ‘n les in geskiedenis is en kyk na die sitkamer waar Nelson Mandela mev Verwoerd besoek het. Die huis is gerieflik maar onopgesmuk.

By die meule vertel ‘n ongetroude man dat meisies maar skaars op Orania is.‘Daar is ‘n waglys’. Tog ontmoet ons begeesterde jongmense wat nêrens anders wil woon nie.

In die aand kom haal ‘n jongman ‘n meisie vir ‘n wandeling. Haar vriendin stap saam. Dis nou ‘n hot date terg ons hom.

Ons kuier tot laatnag by die einste jongman wat om middernag die wynbottels wegpak en streng verklaar; ‘Dis nou Sondag.’

Ons gaan slaap en die stilte is oorverdowend. Ons is nie net op ‘n ander plek nie. Dit voel ook of ons in ‘n ander era is.

Die volgende oggend sien ons oral mense na een van die drie kerke toe stap om die erediens by te woon. Dit lyk of almal op Orania kerkgangers is. Een van die vereistes vir inwoners is dat hulle Christene moet wees.

Alles is gesluit want dis Sondag. Net soos in die ou Suid-Afrika. Dis irriterend maar terselfdertyd nostalgies. Die vulstasie sal darem van 11h00 af vir twee uur lank oop wees sodat ons brandstof kan ingooi voor ons huis toe gaan, maar ‘n mens kry die indruk dit is eintlik ‘n toegewing dat dit hoegenaamd oop is. Hier word die Sabbat nog geëer.

Ons ry weer ‘n paar draaie deur die dorp en hou by die veelbesproke Koeksistermonument stil – iets waarmee enige vrou wat nie ‘n besemstok is nie kan identifiseer. Ons monde water. Ons wil dadelik koeksisters eet. Maar helaas, dis Sondag. Alles is toe.

Die Oraniërs sê dit maak sin dat ‘n monument vir dié stroperige lekkerny opgerig is want hoeveel ouetehuise en weeshuise is nie deur die jare danksy koeksisters gebou nie? En Jaco voeg by dat die einste monument toon dat die Volkstaters darem ‘n humorsin het.

‘Haai,’ merk my seun op, ‘ die plek is toe nie met konsentrasiedraad omheim nie. Daar was ook nie ‘n boer met ‘n ou Sanna wat vreemdelinge verwilder nie.’

By die vulstasie gooi ‘n Afrikaner vir ons brandstof in. Byna vergeet ons om vir hom ‘n fooitjie te gee. Ons voel verskriklik skuldig. Ons ry huis toe – terug na die Nuwe Suid-Afrika. Terug na Gangsters Paradise. In Gauteng is dit tweede natuur om ‘n petroljoggie iets in die hand te stop.

Dalk het ons nog nie die kopskuif gemaak nie.

Bron